As ʼn man in die Sandveld/ Weskus groot geword het en jy bly elders dan kom daar ʼn tyd wat die verlange na daai grootwordwêreld mens oorval.

 

In die jare wat ek in Pietermaritzburg woonagtig was en die verlange oorval my, het ek baie keer saans op my bed gelê en geïmproviseer. Dan ruik ek die vars gesnyde stoppellande van vroeg Desember, Langebaan se Lagoon in April, die sout seereuk  van Paternoster, die reuk van ʼn vlei teen die Bergrivier, Laaiplek se aroma, Gousblom en Miskus in Augustus, die reuk van nat stofgrond met die eerste reën Meimaand op Koperfontein. Natal, met al die groen heuwels is dan vervelig.

 

As die verlange na die Weskus my hier in Somersetwes  oorval druk ek my Camper se neus Wes. Dis nie vir sommer net ry nie. Dit is elke keer ʼn reis asof dit my eerste keer is. Somersetwes, Stellenbosch, Klipheuwel, Malmesbury. Anderkant teen die bult uit tot waar die groen borde Hopefield/Vredenburg aandui. Links tussen Rooidraai se aanmekaarwingerd tot bokant Kiesenbos se heuwel voordat die pad afsak, eers hou ek eers stil en kyk. Doer vêr lê die Weskus en wag.

 

Ek ken al meeste van die plaasname. Links onder aan die voet van Kiesenbos, lê die plaas Rondomskrik. Die nuwe pad loop nou hoog bo-oor die treinspoor. Anderkant teen die bult uit sodra dit gelyk word, lê Tweekuil regs. Verder af met die pad sien jy die naamborde : Drostersnes, Sandkloof, Vaalkloof, Paddavlei, Klipfontein, Nieuwedam,  Oupos,  Ruststasie, Lucasfontein, Renosterbos, Olifantskuil, Wittedam,  Geelkuil, die Moorressburg/ Darling kruising, Kolskoot Gastehuis, Oom Jan Ponde du Toit se plaas links, Holvlei se plaasskooltjie regs (dis hier wat Jan Brêg van Darling op ʼn Donderdagoggend opdaag in ʼn pak klere en hom voorgee as die nuwe skoolinspekteur. Hy laat die kinders resitasies opsê, dans en sing en toe almal moeg is sluit hy die skool vir die dag en almal is voor  tien uur weer terug by die huis.), Holvlei bo teen die bult, Enkelvlei, Bontheuwel, Sandvlei, Karbonaatjieskraal, Skaapplaas en dan Koperfontein.

 

Ek ry Koperfontein binne. Stadig, dis my grootwordplek. Ek stop by my Ma se ou winkelgeboutjie wat nou ʼn koffiedrinpklek is, THE COPPER KETTLE.

 

Tussen Koperfontein en Hopefield lê Rossievlei en die afdraai na Koeratenberg. Die groot windlaaiers staan alkant van die pad. Dit lyk asof hulle nie haastig is nie. Ek weet nie of ek bang of verwonderd moet wees nie.

 

Ek het my manier om deur Hopefield te ry. Oor die treinspoor draai ek slap links, by die ou stasie regs voor die skool verby, links voor die ou polisiestasie en dan weer regs verby die begraafplaas en die seunskoshuis. Regs af tot by die hoofstraat, oor die Soutrivier en regs oor die grootpad in die rigting van Velddrif. Die ou Bergrivier waterpompstasie lê regs – nou vervalle. Oom Jimmy Laker het elke dag met sy stompneus Bedford Skoollorrie die skema se kinders na Hopefield se skool vervoer. Hulle was ʼn ondeunde klomp. Wie onthou nog vir Pollie Negetoon ?

 

Verder aan, die afdraai regs na Kersefontein, dan Bergrivierstasie en die Koöperasie geboue. Af al langs die Bergrivier lê die ou opstalle : Helderwater, Cloeteskraal, Langrietvlei, Kliphoek en Swartjiesbaai.

 

Wanneer ek regs indraai oor die brug na Velddrif voel dit vir my asof my bors ooptrek ! Ek kon dit nog nooit vir niemand beskryf nie maar dit is wat hierdie wêreld aan my doen. Alles is ligter en oper. Die plek ruik anders en die mense lyk ook anders. Miskien is dit my verbeelding.

 

Ek draai regs by die Riviera Hotel en ry al langs die laning palmbome op en dan regs in Bokkomlaan. Dis Velddrif se “Waterfront”. Waar is die dae wat ek hy Oom Mappie bokkoms gekoop het en Dowes met krom vingers vir my vet harders met die hand uitgesoek het. Ek is bly die plek het bewaar gebly. Ek koop ʼn bossie bokkoms.

 

In Waterkantstraat ry ek eers by Nic en Erna Mostert aan vir koffie. My tydgenoot, as twakpraat boeremusiek was, was ons al lankal doodgedans!

 

By Laaiplek ry ek eers by die hawe langs om die visserbote te sien. As hulle darem kon praat -- sal graag daai stories wil opskryf. Ek koop ʼn paar harders by die viswinkel.

 

Ek ry Dwarskersbos se kamp binne en kry ʼn staanplek teen die draad onder ʼn lekker koelteboom. Met die Camper is daar nie veel van ʼn afpak nie en gou-gou staan alles op sy plek. Martie is moeg gery en ek stap see toe.

 

Daar is ʼn mooi bankie op die hoogwatermerk en ek kry my sit met ietsie koud in my hand. Dis windstil en die see spoel rustig tussen die bamboes. Niks het verander nie. Die oop strand met die blou rollende branders en die seebamboes en swart mosselskulpe wat in die opdrifsels lê.

 

Dis Desember1962: My eerste kennismaking met Dwarskersbos.  Met ʼn blou 1958 VW kombi ry ek, Riaan Visser en ʼn bokserhond met die naam “Spats”, saam met Charl Baard Dwarskersbos toe. Ons het gehoor daar is ʼn CSV kamp met baie meisies. Die kombi se vorige baas was Konstant Laubscher van Skaapplaas.

 

Die bruin army kloktent van Katzef staan op die hoogwartermerk en dis waar ons lêplek kry. Dis tog te lekker. Ons swem, lê en sonbaai en probeer die CSV meisies beïndruk. Ons is nie baie suksesvol  nie want daar sit ʼn kwaai antie op ʼn stoeltjie onder ʼn geel sambreel wat die meisies dophou. Waar kry hulle altyd daai anties? Ons kom later agter dat ons Spats kan gebruik om die meisies nader te lok. Hy was ʼn ougat hond en het die balle wat die meisies vir hom gooi na ons toe aangedra. Later maak die kwaai antie die meisies bymekaar en ons sit droëbek alleen op die strand.

 

By die tent aangekom is daar woelige geselskap. Daar is onder andere ʼn goeie kwota KWV drie jaar onder een van die kampbeddens. Op daardie stadium was drank en sigarette vir my nog vreemde goed. Dit was ook nie hoeka nie toe gee iemand vir my ʼn langglas aan. Drie jaar KWV met Oros , gemeng met brakwater. Die smake is vir my vreemd maar onder luide aanmoediging vat ek die glas vas. Dis soet en proe nie te onaardig nie. Later doen rooi Jerepiko die rondte.

 

Skielik begin die aarde draai. Ek val om, sand in my gesig. Later kom ek agter ek beweeg weer en voel ek ʼn koel briesie in my gesig waai. Dit is die Visser susters van Osdam ( Anna en Face) , wat my op die strand koudlei. Hulle het my alkant ingehak en hou my regop, ek gee sulke hoë trappe. Die vars seelug maak my weer mens. Ek kry swart koffie in ʼn geblomde enamel beker. Nooit weer nie !, belowe ek my self.

 

Dis Saterdagaand en die Sandveldse mense is jolig. Die badshuis se stoep is die bymekaarkomplek en dit klink gesellig. Ek gaan sit eenkant op ʼn omgekeerde paraffienkissie en hou die verrigtinge dop. My sin is op en my blus is uit, ek het vir niks lus nie.

 

Daar is ʼn drieman orkes wat met mening musiek maak. Elkeen sit op sy eie stoel. ʼn Groot ou met ʼn effense maag wat hier tussen sy bene uitsak slaan die kitaar. Sy dik vingers beweeg ligvoet oor die snare, sy kuif hang oor sy voorkop soos hy vooroor gebukkend sit. Hy het ʼn paar ligbruin Barker skoene aan waarmee hy die ritme hou. Kerksokkies hoog opgetrek. Die lang man met die konsertina leun so effe links maar ken sy storie. Sy gesig bly ernstig, hy rek hom, trek hom en skud die konsertina laat hy skree soos ʼn boklam wat sy ma soek. Sy linkerhand weet nie wat sy regterhand doen nie. Die man met die mooi rooi trekklavier is groot van postuur, hy sit agteroor met die instrument wat so half op sy maag rus. Die band van die trekklavier trek ʼn moot hier oor sy skouer. Hy het ʼn breë glimlag en die sweet staan op sy groot voorkop.

 

Almal stoei vir ʼn plekkie op die lang stoep en dit gaan tog te lekker. Jong meisies met kort uitswaairokkies en bruin bene, manne wat losdans en allerhande “moves” uithaal, ʼn kaalvoet ou met ʼn groot pens het sy vrou styf vas in ʼn langarmdans en gly deur die ander dansers, ʼn oom met opgerolde hempsmoue en ʼn antie met ʼn stywe bolla vat dit rustig. Dis die Sandveld op sy beste op ʼn Saterdagaand.  Dwarskersbos se mense.

 

Die vure brand en daar word kosgemaak. Skaaptjops, beesrib, boerewors wat sulke blou dampe maak soos die vet uitdrup oor die gloeiende kole. Eenkant op ʼn grondvuurtjie staan ʼn groot swart platboompot met kreefspriete wat onder die deksel uitsteek. Dit ruik na kookaartappels, gebraaide vis en vars brood.

 

Eenkant staan ʼn vaalbruin Plymouth met sy kattebak oop. ʼn Paar manne drom saam en een ou sit op ʼn riempiestoel met sy dop op die “bumper”. Daar gaan dit lekker. Ek sien ʼn groterige antie staan nader en praat dringend met ʼn oom wat half onwillig omdraai en terugstap. Hy hou ʼn leë glas in sy regterhand.

 

Dit was iets wat my altyd sou bybly. Mense van ʼn kontrei wat hulle self so kon vermaak. Ongekunsteld, opregte omgeemense, geen varkhare.

 

Die volgende oggend breek die son helder oor Aurora se berg en die see lê spieëlglad. Ek sit voor Katzef se tent op die hoogwatermerk met ʼn beker koffie, my kop is skoon en helder. ʼn Swerm seeduikers kom laag aangevlieg vanaf Velddrif se rigting, op pad na die viswaters van Elandsbaai. Hoe kry hulle dit reg om so laag oor die water in ʼn formasie te vlieg? Is dit altyd dieselfde leier wat voor vlieg ? Laatmiddag kom hulle weer terug in dieselfde formasie, Laaiplek toe. Honde hardloop oopbek in die vlak water en kinders tel skulpe op. Boere – Omies stap met opgerolde broekspype, die anties is getooi in helder wyerand hoedens. Seemeeue kners en duik laag as daar iets te ase is. Die seeluggie proe sout en dit ruik na seebamboes.

 Dwarskersbos kom kry sy lêplek hier in my wese.

 

Ek stap terug na my kampplek en steek ʼn vuurtjie aan. Toepens harders op die kole. Ek pluk ʼn bokkom, skil dit af, en gooi die binnegoedjies in die veld vir die muishond wat vannag ietsie sout kom soek. Vannag lê ek met die gesuis van die branders en my ore en ʼn jakkals wat in die verte roep.

 

Ek korrespondeer met een van die Joodse kinders van Langebaan, Marcia Abrahams, Panoramic Hotel, en die dogter van Sydney Sank , eienaar van die destydse Railway Hotel op Hopefield. Hulle bly onderskeidelik in Iowa en Texas in Amerika en het almal op Hopefield skoolgegaan en is nog steeds Afrikaans magtig. Regte boere Jode. My Weskusstories doen daar die rondte. Hulle raak nostalgies oor haarders, maasbankers, steentjies, vyekonfyt en waterblommetjies.

Marcia skryf : “South Africa ( lees Weskus), lives so deeply inside me  – it will never leave my soul and I’am so drawn to it”.

 

Beter kan ek dit nie opsom nie.

 

Dwarskersbos , ons eie stukkie Strandhemel.