Motorfietse het my nog altyd geïnteresseer en toe ek in 1973 die geleentheid kry om ʼn tweedehandse ‘off road bike’ vir so R100 plus te koop was die koeël deur die kerk. Daardie tyd was hierdie soort motorfietse nog relatief onbekend en die keuses ook nie groot nie. Die sport was ook nog in sy kinderskoene hier RSA.

So word ek die trotse eienaar van ʼn 1970 BSA VICTOR SPECIAL 441.Die vorige eienaar het aan veldwedrenne deelgeneem, dus was die bike kaal gestrip met sulke groot ‘knobblies’ wat hom rof en onbeskof laat lyk het.

 

Eers iets oor die Victor. In die middel sestigs het Brittanje vir drie jaar die Europese veldwedrenne met hul BSA’s oorheers. In 1968 bou hulle ʼn 441cc enkelsilinder motor in die raamwerk van hul 250cc en dit is ʼn onmiddellike sukses. Om hul suksesse te herdenk word die naam Victor gebruik. So ontstaan die BSA Victor Special 441. Met sy ligte raamwerk, topspoed van 85mph en goeie versnelling, was die fiets baie gewild. Die Victor het aandag getrek met sy blink gepoleerde aluminium petroltenk waarvan die voorste gedeelte geel geverf was en die bekende BSA kenteken weerskante geplak. Die kenmerkende gedoef-doef van die enkelsilinder was verslawend en het al wat n hond geïnspireer om dit te probeer jaag!

 

ʼn Vriend van my,Peter Raw wat saam met my by Cedara College gewerk het, ʼn motorfiets foendi, het my gehelp om die BSA padvaardig te maak. Eintlik het ons net voor-en agterligte aangesit, rigtingwysers was toe nog nie verpligtend nie.

 

Die dag met die padvaardigheidstoets was ook nie sonder drama nie. Dis was ʼn warm Woensdagoggend in Februarie 1973 toe ek met die Victor by die Mkondeni toetssentrum net buite Pietermaritzburg inry. Die toetsbeampte is so ʼn jong ou en hy probeer fout vind maar alles werk en al wat oorbly is om die fiets vir ʼn toetsrit te vat. Nou moet ek noem die man het so ʼn effense houdinkie wat jy soms by ouens kry wat in ʼn magsposisie is.

 

Dit was ʼn hele proses om die Victor aan die gang te kry. Die kompressie van die motor was baie hoog en aan die onderkant links op die ‘handle bar’was daar ʼn ‘valve lifter’ wat jy met jou duim werk. As jy nie daarvan weet nie kry jy nie die Victor aan die gang nie!

 

Die prosedure was soos volg: Staan regs van die fiets met albei hande op die ‘handle bar’ om die fiets regop te hou. Die linkerhand se duim druk liggies op die ‘valve lifter’ en jou regterhand op die ‘throttle”wat jy liggies draai om net genoeg petrol na die Amal vergasser te voer. Gee jy te veel petrol ‘flood’ die vergasser en dan neuk hy om te vat en moet mens eers wag tot alles verdamp voordat jy weer probeer. Trap nou met jou regtervoet die ‘kickstart’ af tot jy voel die ‘piston’ is nou op ’top dead centre ‘(TDC).Gebruik nou die ‘valve lifter’ deur dit met die linkerduim in te druk totdat die ‘piston’ net verby TDC gaan. Kry die ‘kickstart’ weer tot bo en skop hard. As hy vat draai jy die petrol liggies sodat hy rustig doef-doef.Dit klink ingewikkeld maar ʼn ervare Victor eienaar doen dit in sy slaap.

 

Nou probeer die spietkop die Victor start en ek help hom nie reg nie want hy is darem net te windgat.Om daai ‘kickstart’ tot onder te trap sonder dat jy die kompressie verlaag sit nie in enige man se broek nie. Ek los hom eers en staan en kyk hoe die sweet hom begin aftap soos hy die Victor probeer lewe gee. Ek sien sy draad word kort en hy begin hyg na asem. Hy is nog jonk en sterk maar ek sien hy is naby flou word. Dit word nou ʼn magstryd en hy wil nie gesig verloor nie. Toe hy nou goed flou is staan ek nader en sê : “Shall I start it for you ?” Met een skop kry die Victor lewe en verbaas klim hy op. Hy kom met ʼn vaart teruggejaag, hou stil en gaan haal ʼn maatband en begin die ‘handle bar’ meet. Nee sê hy, die bike is nie padvaardig nie – die ‘handle bar’ is te wyd ! Ek gaan roep toe die hoofman oor tien wat bevestig alles is wettig. (ek dink die ‘handle bar’ was tog so ʼn bietjie aangepas!)

 

In 1972 stel Honda ʼn motorfiets bekend wat later ʼn ikoon word: Die Honda XL 250.Dit was een van die eerste ‘Enduro’ of ‘Duel-Sport’ fietse van sy tyd en almal wou een hê. Met sy 24 hp enkelsilinder motor,9.5 l tenk en ʼn gewig van slegs 228lb was dit ʼn wenner. In Pietermaritzburg kon jy ʼn splinternuwe Honda by Killerby’s vir slegs R850 koop! Alles aan die fiets was meganies met geen hidroliese goeters nie en die elektriese stelsel was puik. Dit kon vir weke buite staan, plat lê of vol stof wees maar as jy daai ‘kickstart’ skop, vat hy onmidelik. Ook geen olielekke nie!

 

Ron McLaren koop in 1975 ʼn nuwe XL 250.Dit was ʼn pragtige fiets met ʼn silwer petroltenk en ʼn rooi streep buiteom geverf. As mens Ron vandag ken sal jy nie sê hy was nogal rof met ʼn fiets nie. Die XL was net nie sterk genoeg vir ʼn ‘wheelie’ nie maar dit het hom nie weerhou om dit te probeer nie! Sy middel seun, Bruce, het egter die kultuur van motorfietsry tot in ʼn ander dimensie gevat. Met sy enkelsilinder Yamaha het hy so pas ongeveer 28000 km afgelê vanaf Dubai tot in Perth! Hy was ook al ʼn keer deur Afrika. Die verste wat Ron gery het, was van Pietermaritzburg tot by Ramatseliso’s grenspos en terug.So besluit ek en Ron om die naweek van die 3de Mei 1975 die Sanipas te gaan ry. Ons laai die fietse op my 1970 1600cc Toyota Hilux en bly die naweek in die Himeville Arms op Himeville. Beide Martie en Erna is verwagtend en Maynard is toe ongeveer twee jaar oud en wil net op sy pa se motorfiets ry. Ron is ʼn pynlike presiese ou en hy tref goed voorsorg vir ons avontuur. Behalwe sy lip ice, pak hy ʼn kannetjie Tyre Fix in indien ons ʼn papwiel kry. Halfpad na die SA grenspos begin die agterband van Ron se fiets skielik sag word maar ons ry aan. By die grenspos aangekom ontdek ons ʼn koppiespeld wat in die band steek! Die Tyre Fix word ingespuit maar die instruksies sê jy moet eers die wiel goed laat loop voor jy verder ry. Langs die polisiekantoor was ʼn oop stuk sementblad en daar het Ron al in die rondte gery totdat hy gelukkig was die band word nie weer pap nie. Mense met ʼn Land Rover het eintlik stilgehou om te kyk en wou weet waarvoor oefen die ou op die motorfiets.

 

In 1975 was die Sanipas nogal rof op sommige plekke. Van die draaie hoër op in die pas moes die Jeeps vorentoe en agtertoe ry om die skerp draaie te maak. Bo aangekom het ons eers iets by die hoogste kroeg in Suider Afrika iets gaan drink. Die Basotho kroegman se naam was Zeff en hy het net een oog gehad. Sy manier om geld uit jou te maak was om ʼn pot veerpyltjies te speel. Die pyle het net so hier en daar ʼn veer aangehad en dit was amper onmoontlik om vir Zeff te wen.            

 

Ons is daarvan verder tot bo-op die Black Mountainpas waar die Honda se agterlig loskom en ons dit afskroef.Die paaie daardie dae in Lesotho was verskriklik sleg en dis eers baie jare later dat die Kanadese regering die pad van Mgothlong tot by Sanipas oorgebou het. Op pad terug was daar nie insidente nie behalwe dat die Victor op een van die skerp draaie ondertoe onder my uitgeglip het, gelukkig teen ʼn lae spoed.

 Met Lesotho se berge in gedagte, het twee van my kollegas op Cedara  elkeen ʼn Honda XL 250 gekoop en ons maak planne om die jaarlikse Roof of Africa in Lesotho te gaan kyk.

 

Die roete word soos volg beplan: Ons kom almal die Vrydagaand op die plaas Hazeldene van Jack Lund, tussen Underberg en Himeville, bymekaar, waar ons sal oorbly om vroeg die volgende oggend te vertrek. Buite Underberg draai ons regs op die Coleford pad, ook genoem ‘Cane Lane ‘ weens die drinkgewoontes van die boere langs die pad, oor die Mzimkhulu rivier,deur die Coleford Natuur gebied en oor die Kings Coat pas tot op Swartberg. Daarvandaan neem ons die Matatiele pad vir ʼn paar kilometers en draai dan regs op die agterpaadjies tot by Ramatseliso’s grenspos. Dan ry ons in die rigting van die Sehlabathebe Nasionale Park en gaan oor die berugte Matebengpas(3416 m) tot by Molumong, af met die Black Mountainpas(3394 m) tot by Sanipas(3256 m).Vandaar, af met die Sani tot weer by Underberg. Opwindend !!

 

Die span bestaan uit: John Mallett,Roy Mottram en sy passasier Peter Rutsch, Ron McLaren en ek. Almal ry nuwe 250 XL’s maar my ou Victor Special staan nie terug nie en klink boonop soos ʼn regte motorfiets! My vriend, Peter Raw, het twee sulke ‘carriers’ gemaak wat alkant van die saal vasgeskroef is vir ʼn ekstra petrolkan en ander los goeters.

 

Die Vrydagmiddag laai ek en Ron ons fietse op my Hilux en ry Underberg toe waar die manne alreeds vir ons wag. Underberg raak ʼn ander plek op ʼn Vrydagaand veral as jy saam met Mottram en Lund in die berugte Underberg Hotel se kroeg beland. Middernag strompel ons die plaashuis op Hazeldene binne en kry dit reg om darem iets te eet voordat ons omval. Die goeie voornemens wat ons gehad het om vroeg te gaan slaap is daarmee heen.

 

Die volgende oggend sukkel ons om aan die gang te kom maar almal is opgewonde oor die avontuur wat voorlê. Onthou, ons is almal so 33-34 jaar oud en die wêreld is eintlik te klein vir ʼn mens! Met ʼn helse lawaai trek ons daar weg dat jy net klippe sien spat want ons ry mos eintlik ‘rally’! Roy Mottram, met Peter Rutsch agterop, is heel voor. Mottram ry sommer langs die pad in die gras en laat waai. Die volgende oomblik sien ons net hoe hulle deur die lug trek en die XL bollemakiesie agterna kom. Jack Lund het ʼn boom uitgehaal en die gat was nog nie toegegooi nie. Dis nou so 30 meter van die huis af! Peter het ʼn sny aan sy been maar verder lyk hulle ongeskonde en die ‘handle bar’ van die fiets word weer reguit gebuig.Toe ons vir die tweede keer wegtrek was dit heel bedees en Ron ry heel agter met die dosyn eiers waarmee ons later gaan ontbyt maak daar onder teen die Mzimkhulu. Hy was nog altyd ʼn verantwoordelike ou en mens eis as jy dink Mottram moes die eiers vervoer !

 

Dis ʼn heerlike warm dag en die pragtige omgewing betowerend. In die sewentigs was al die paaie in daardie omgewing grondpad en dis eers later dat die pad tussen Underberg en Swartberg geteer sou word. Ons stop op Swartberg om bene te rek en vat die agterpad in die rigting van Ramatseliso’s. Daar aangekom, maak ons vriende met die jong polisieman en sy vrou wat die grenspos beheer en hul nooi ons om sommer die aand in hul huis te slaap want hul moet die nag al die tydrenmotors laat deurgaan. ”Julle kan dan mos sommer na die kinders kyk”.

 

Dit was ʼn wonderlike ervaring om die eerste motorfietse te sien en teen die spoed wat hulle jaag. Die ‘Roof’is ʼn resies teen tyd van die wegspring af, sonder stoppe, en die ou wat eerste die eindbestemming bereik,is die wenner. In 1975 was Malcolm Smith van die VSA met sy KTM die eerste buitelander wat hierdie uitmergelende wedren sou wen. Alfie Cox van Cato Ridge in Natal het die ‘Roof’nege keer gewen en hou nog steeds die rekord !

 

Laat die middag het die eerste motors begin aankom en teen donkeraand besluit ons om liewer te gaan rus as ons dieselfde roete die volgende dag wil aanpak. Digte mis begin uitsak wat die plek spookagtig laat lyk,veral as die motors met die baie ligte so deur die mis aankom. Daar is twee dinge wat ek daardie nag sal onthou: Die kleintjies wat ons moes oppas het heelnag geskree. Die gloeilamp wat ek probeer vervang sonder om die lig af te skakel het in duisend stukkies ontplof. Ek was gelukkig om nie ʼn oog te verloor nie.

 

Die Saterdagoggend toe ons wakker word lyk die wêreld heel anders. Dis toegesneeu en bitterlik koud. Ron het dit net so een kyk gegee, en realis wat hy is,besluit hy ry nie verder nie. Ek staan die Victor so en kyk en oorweeg my opsies: die bike is oud en dit gaan nie maklik wees nie. Ek draai ook om. Peter Rutsch vra vir Ron of hy kan saamry tot by die Swartberg Hotel want hy sien nie kans agterop ʼn fiets in kniediep sneeu nie. Mottram en John Mallet besluit egter hulle gaan deurdruk. Hulle is daardie aand deur nonne van ʼn klooster gered en slaapplek gegee. Altwee het vriesbrand in die hande en voete opgedoen en was gelukkig om lewendig anderkant uit te kom. Hulle uitstappie het toe heelwat langer geneem. Lesotho is bekend daarvoor dat die weer onverwags kan toeslaan en as jy nie ingerig is nie kom jy nie lewendig terug nie. (Soos ek hier sit en skryf stuur iemand ʼn foto op Facebook wat wys Sani Lodge is toegesneeu en dis Oktober!)

 

Ons terugreis bergaf was ook ʼn nagmerrie want toe is alles seepglad en dit reën aanhoudend. By Swartberg aangekom vra ʼn ou wat daar op die hotel se stoep staan hoekom loop ek so krom? Van die koue het ek skoon kromgetrek. Ek het egter ʼn waterbottel met ʼn mengsel likeur en brandewyn byderhand gehad wat moes help teen die koue. Peter Rutsch was maar te bly om nie verder agterop ʼn motorfiets te ry nie.Net toe ons oor die Mzimkhulu teen die steilte aan die anderkant uitry, glip die Victor se ketting af, seker van al die modder. Ek staan nog so en wonder oor hoe ek dit weer gaan terugkry toe daar ʼn Ford Granada Coupe met ʼn Matatiele nommer stilhou. Hy stel hom voor as Van der Merwe en uit sy kattebak diep hy die regte gereedskap op begin die ketting terug sit. My hande was in elkgeval so koud dat ek aan niks kon vat nie. Dit was ook die enigste motor wat ons daardie dag gesien het. As dit in Lesotho moes gebeur het was daar seker vandag aan die voet van die Matageng ʼn gedenkteken met die skrywe: “ Hier lê ou Vlooi du Toit met sy Victor Special”? Ek was nog nooit so bly om weer my Hilux te sien nie!

 

Lesotho is ʼn wonderlike plek om met ʼn motorfiets te toer en veral die berge en natuurskoon is iets besonders. Dis ʼn moet vir ʼn man wat ʼn bietjie avontuur soek en met die verskeidenheid dubbeldoel motorfietse beskikbaar, behoort dit op jou kortlys te wees. Oppas net vir die weer!

 

Na my motorfietsongeluk in 1978 met ʼn Honda Goldwing naby Koperfontein in die Weskus, verkoop ek die BSA Victor Special 441 aan Hugh Braithwaite, ʼn jong boer van Winterton. Hy het later die fiets aan iemand op Estcourt verkoop. Ek wonder tog wat het van die Victor geword en of sy eienaar besef wat ʼn besonderse motorfiets dit was.