Ek ry so ʼn week of wat gelede Weskus toe. By Koperfontein, my grootwordplek, draai ek in om eers ʼn lekker koppie koffie by die Copper Kettle te geniet. Die agterkant van my ma se winkel, die ou garage is nou die koffiedrinkplek. Pragtig gerestoureer.

 

Terwyl ek daar sit oorval ʼn droewigheid my. Hier sit ek 70 jaar later in Oom Kosie Smith se garage/werkswinkel. Ek onthou die vloer met die baie oliekolle, die lang werksbank teen die agterste vensters met al die spanners en motorparte. Die lang yster “lift” waarmee die karre opgelig word. Ek sweer ek ruik petrol en oliedampe. Oom Kosie met ʼn griesbesmeerde wit jas wat aan die Studybaker bakkie van die Schreuders se binnegoed werk.

 

Buite staan ʼn vaalgroen 1937 Ford Lincon Zypher met sy enjinkap oop. Dis ʼn 12 silinder enjin en hy wil nie start nie.

 

My 21 ste verjaarsdagparty in hierdie einste garage, ʼn koue winteraand in Junie 1964 met ʼn gellieblik en die middel van die vloer vir ʼn bietjie hitte. My broer Kobus werk die grammofoon en my Oupa Koos maak ʼn spiets. Ek is uitgevat met ʼn das en baadjie.

 

 Ek hoor ʼn dreuning in die ou koöperasie blikstoor oorkant die pad. Ek loop kyk. Dis ʼn moderne koringmeul. Die reuk van varsgemaalde koring sweef in die lug.

 

Skielik verlang ek na my Oupa Koos se koringmeul : J E van Niekerk : MEULENAAR & ALGEMENE HANDELAAR staan in rooi letters buite teen die gewel geskryf. Langsaan is my ma se winkeltjie. Die laaste outydse granietsteenmeul van die Sandveld. Ek hoor die ou groen Ruston Hornsby enjin se gedoef-doef. Die vliegwiel van die Ruston staan bokant my uit en oral is bewegende dele van die reuse masjien wat geraas maak. Ek ruik warm olie, dieseldampe en meelstof. Daai masjienkamer was ʼn wêreld op sy eie.

 

ʼn Lang aandrywingsbelt loop deur ʼn opening in die muur wat die granietsteenmeul aandryf. Die meul is van hout gebou met poellies, siwwe en ander bewegende onderdele. Aan die voorkant staan Frans, oupa se handlanger, by twee geute waar die meel in sakke uitloop. Die varsgemaalde meel is warm en ruik aards. Sodra ʼn sak volgeloop het, sleep Frans dit op ʼn skaal en maak seker die gewig is presies 200 lb. Dikwels stuur ouma Lenie vir my met ʼn enamel kommetjie om ʼn baksel varsgemaalde meel te gaan haal. As sy die stomende groot bruin brode uit die oond haal kry ek die eerste sny van die kopkant met dik geel botter en korrelkonfyt.

 

Die meul was soms ʼn bedrywige plek soos die boere koring aflaai en meel oplaai. Oupa is altyd daar met sy wit oorpak met die meelstof wat so ʼn lagie op sy wenkbroue en snor lê. As klein seuntjie was dit vir my ʼn fassinerende plek. Ek sien hoe die jong Oom Tokkie van Schalkwyk ʼn 200 lb sak meel aan sy oor vat en met sy regterhand gooi hy dit met een swaai bo-oor die wa aan die anderkant af!

 

Oom Rix, ʼn Duitse boer, met sy ex army Harley Davidson motorfiets kom laai een sak meel in die “sidecar”. Daai oom was groot en ek was bang vir hom.

 

Dan was daar ʼn Oom Rhaal wat met ʼn drieton Chev lorretjie die hele dag voor die meul gestaan het om te wag dat Oupa sy voorraad koring maal. Hy was vreeslik groot en oorgewig en kon nie uitklim nie. Hulle het hom soggens in die lorrie gehelp en so het hy die hele dag gesit. Oupa het op ʼn riempiestoel langs die lorrie se deur gesit en Ouma Lenie het tee en beskuit aangedra. Wat gesels mens heeldag met so ʼn mens?

 

ʼn Ouerige Datsun bakkie hou voor die meulhuis stil. Die bruin man koop een sak meel. Agterop die bakkie is leë 20 gelling wynvat. Oupa stuur hulle om na Miss Girlie se wynkelder toe om die vat vol vaaljapie te laat maak. My Pa sê toe hy begin wyn intap sien hy die vat lek. Die drywer sê “ Oubaas moet vinnig tap ons moet nog vêr ry”. Die swik is skaars ingeslaan toe trek hulle met ʼn vaart weg. Twee manne sit agter op die bakkie om die vat vas te hou. My pa sê toe hulle die klein rooi hoogtetjie daar duskant Boorwater uitry, lyk dit kompleet soos een van die Afdelingsraad se geel Bedford lorries wat die pad nat gooi. Een nat streep soos die vat lek.

 

My gedagtes dwaal. In my geestesoog sien ek vir Hannes Slabber in sy klein Austin A4 bakkie verby ry. Sy groot lyf sit die kajuit vol. FC Rust hou stil en klim uit. Hy knyp se linker oog so effens toe as hy met Oupa praat. Thys Stap het altyd gesê hy spaar die een oog.

 

 Nou is daar groot opwinding. Pieter Persens van Langebaan hou voor die meul stil met vars ,groot lagoon harders van Church Haven. Leef en beef staan nader. Oupa Koos krap met ʼn stywe wysvinger in die streepsak harders rond vir die grotes totdat Oom Christie Truter keelskoonmaak.

 

 Die Kaapstad/Saldanha passasierstrein stoom Koperfontein binne. Jy kan jou horlosiestel : presies twaalfuur. Hy stop nie lank nie en van die passasiers hardloop Miss Girlie se winkel binne vir ʼn koue Cream Soda uit die paraffien yskas. Die kondukteur hang skuins by die kondukteurswa se deur uit en blaas op sy fluitjie. Stadig trek die trein weg. Wit stoom blaas na die kante toe uit. Regoor Oom Klaas Koch se winkel trek die drywer die fluit, twee toete. Dis die teken dat Koperfontein middag maak. My Ma sluit die winkel en maak eers weer twee-uur oop.

 

Ek stap tot teen die treinspoor. Die klein goederestoor ( “goetset”) en laaibank is afgebreek. Hoe baie het ek nie hier help koring laai tydens my studentejare nie. My oog streel oor die geboue en huise van die families van daardie tyd. Oom Klaas Koch, Oom Fanie Carstens se sink huisie, Oom Hennie Greeff en later die Symingtons se wit huisie met die groot reservoir, Oupa Koos se stewige huis, ons huis wat my Pa self staangemaak het, Oom Niekie Loubser , die koöperasie bestuurder se mooi huis, Oom Klaas en tant Lizzie se historiese sinkhuisie, die Louw familie se groot huis en langsaan die klein huise van tant Hela. Die ou skooltjie is nou omskep in ʼn mooi woonhuis. Die “Witblok”, koöperasiewerkers se huise. Oupa Koos se meulhuis, nou ʼn selfsorg gastehuis vernoem na my Ma, Miss Girlie. Die winkel en ou garage heet nou die Copper Kettle.

 

My gemoed voel nou ligter. Hier het ek grootgeword as Weskuskind. Die reuk van varsgesnyde stoppellande warrel hier om my. Ek sien Piketberg en Aurora se berg in die verte. Bakens waarmee ek grootgeword het. Dit laat my veilig voel. Dinge is nog dieselfde. Tog verlang ek na my mense van vergange jare. Hulle was altyd daar : Sondae in die kerk, langs die rugbyveld, skoolkonserte, kerkbasaar, begrafnisse, in my Ma se winkel en in my Oupa se meulhuis. Ons het lief en leed gedeel.

 

 Ek klim in my kar en kyk vir oulaas rond. Wat ʼn voorreg was dit nie om hier groot te geword het nie met al die rolmodelle hier om my. Rus in vrede.